• Do you feel called to offer spiritual care but want to equip yourself with practical tools? Are you looking to integrate your faith with effective counseling techniques?

    Our eLearning site is designed for individuals like you. We offer accessible, Christ-centered courses to help you develop the skills and knowledge needed for pastoral counseling. Explore how to navigate difficult life experiences, bridge the gap between faith and mental health, and provide compassionate support within your community.


Available courses

Die inhoud van hierdie kursus is daarop gefokus om aan diegene wat by kinders betrokke is, ‘n aantal belangrike riglyne te bied ten einde in staat te wees om onder die leiding van die Heilige Gees, tesame met die toepassing van die nodige praktiese insigte, stukkende en verwonde kinders te kan begelei tot heling, restourasie en nuwe lewensvreugde.

Die probleem rondom boelie het die afgelope aantal jare al meer aktueel geraak in ons skole. Namate die Internet al meer prominent begin raak het, het daar ook ‘n al groter skuif begin plaasvind vanaf fisiese boelie na kuberboelie toe. Navorsing toon aan dat 88% van tieners wat gebruik maak van sosiale media by geleentheid waargeneem het hoedat daar soms wreed en gemeen gereageer word via sosiale netwerke. 15% het aangedui dat hulle persoonlik kuberboelie ervaar het gedurende die voorafgaande 12 maande. 32% van die leerders aangedui dat hulle by geleentheid onderweg skool toe, of by die skool deur ‘n ander leerder geslaan is. In die literatuur is daar ook verskeie voorbeelde van kinders wat reeds hul eie lewens geneem het as gevolg van treitering en boelie, hetsy fisies of via die Internet. In hierdie kursus word hierdie baie aktuele tema aan die orde gestel met dan ook ʼn model vir die hantering van boelie, veral in skole, en ook pastorale riglyne.

Daniel Siegel en Tina Payne Bryson toon in hul boek, The yes brain child, treffend aan hoedat ‘n kind gehelp kan word om ja te sê vir die wêreld. Die riglyne is daarop gerig om hulle aan te moedig om hul denke oop te stel vir nuwe uitdagings en nuwe geleenthede en ook te besef oor watter potensiaal hulle reeds beskik - dit gaan daaroor om aan hulle ‘n Ja-Brein te gee. Hierteenoor veroorsaak ‘n Nee-Brein dat die kind in reaksie is teenoor ander en dit maak dit bykans onmoontlik om te luister, te fokus en goeie besluite te neem. Wanneer ouers en opvoeders help om ‘n Ja-Brein by kinders te vestig, impliseer dit tegelykertyd ook die vestiging van emosionele intelligensie asook vaardighede om krisisse en trauma in die toekoms te kan hanteer.

In hierdie kursus gaan ons enersyds let op die belangrikste riglyne vanuit Siegel en Bryson se boek, en andersyds ook in watter mate dit ooreenstem met soortgelyke beginsels wat eeue gelede reeds in die Woord vasgelê is.

Oral waar ons rondom ons kyk (en ook in onsself) sien ons ‘Pa-wonde’ en ‘Pa-honger’. Pyn vanuit die verlede met betrekking tot ons verhoudings tot ons vaders is dikwels die oorsaak dat talle Christene worstel met ‘n verdraaide Godsbeeld en dit gevolglik baie moeilik vind om God die Vader intiem en naby te ervaar. Om ‘n gesonde beeld van Hom te kan ervaar, sal ons dus eers ontslae moet raak van al die gebroke ‘vader-filters’ wat meeste van ons met ons saamgedra het die volwasse lewe in. In hierdie kursus kom hierdie tema onder die soeklig en word daar ten slotte ʼn pastorale model aangebied waarvolgens die onverwerkte pyn van die verlede hanteer kan word.

Hierdie kursus handel oor die pyn van seuns en mans en dogters en vroue wat opgegroei het in huise waar die moeder geworstel het met onverwerkte emosionele pyn en/of trauma vanuit haar kinderjare wat nooit hanteer is nie. Hierdie emosionele bagasie het sy met haar saamgedra in haar huwelik in en dit uiteindelik geprojekteer op haar kinders. Daar word enersyds gefokus op die tipiese simptome van hierdie moeder-wond, en andersyds op ‘n aantal riglyne ter genesing van diegene wat direk geraak is daardeur.

Die gees, denke en emosies van ons jongmense is van kritiese belang. Indien die vyand suksesvol sou wees in sy aanslag op hierdie terrein dan het dit vernietigende implikasies vir gene-rasies wat nog kom. Navorsing toon aan dat depressie onder tieners met 300% toegeneem het die afgelope 50 jaar; dat ʼn proses van desensiti-sering met 40% toegeneem het die afgelope tien jaar, hoofsaaklik as gevolg van oormatige blootstelling aan geweld op skerms; dat die voorkoms van selfsny binne ʼn bestek van 10 jaar toegeneem het in epidemiese omvang; dat selfdood statistieke onder tieners die afgelope paar jaar die hoogte ingeskiet het. Hierdie is maar net enkele van die rooiligte en noodkrete waarop hierdie kursus fokus met die doel om ouers, onderwysers, leraars, beraders, maatskaplike werkers, ens., attent te maak en ook toe te rus vir hierdie massiewe uitdaging.

Die ontwikkeling van die Internet en die positiewe bydrae wat dit kan lewer op verskillende terreine is fenomenaal – tog is die moontlike negatiewe invloed ook oorweldigend. Dit kan olie op die vuur wees van reeds bestaande verslawings of verkeerde lewenstyl keuses en sodoende ontwikkel tot ‘n vernietigende invloed met dieselfde krag as ‘n Tsunami. Die fokus van hierdie kursus is op ontwikkelings rondom die sogenaamde ‘digital invasion’ die afgelope aantal jare asook die geweldige impak op die denke en algemene benadering van talle kinders en jongmense. Daar word onder andere ook gelet op die twee duidelik onderskeibare groepe, naamlik digitale inboorlinge versus digitale immigrante (digital natives vs immigrants) ‘n Aantal probleem areas en slaggate word uitgewys, tesame met verskeie praktiese en pastorale riglyne.

Hierdie is ‘n epidemie wat die afgelope aantal jare dramaties toegeneem het onder jongmense. Vir talle word dit die wyse waarop hulle ontvlug van emosionele pyn aangesien dit tydelike verligting bied. As gevolg van die afskeiding van pynstillende chemiese bestanddele in die brein lei dit egter tot verslawing. Dertig tot veertig jaar gelede was mediese dokters en terapeute in ‘n groot mate vasgevang in die soeke na antwoorde vir probleme soos anorexia en bulimie. Tans is ons in die midde van ‘n soortgelyke proses betreffende selfmutilasie. Die psigiater Joshua Weiner, beskryf hierdie probleem as “… the anorexia and bulimia of the new millennium.” In hierdie kursus fokus ons op die pastorale begeleiding van diegene wat hier vasgeval het.

Met betrekking tot navorsing aangaande die rouproses by kinders was daar tot en met die sestiger jare ‘n sterk denkstroom wat die standpunt gehuldig het dat kinders nie werklik in staat is om die emosies van rou te ervaar nie. Sedertdien is die teendeel egter al meer bewys en het ʼn uitgangspunt soos die volgende byvoor-beeld ál sterker in die literatuur na vore gekom: “Anyone old enough to love is old enough to mourn.” Daarom is dit so belangrik dat kinders gesonde wyses om met die dood en hartseer te deel, sal aanleer. Sonder die nodige begeleiding sal hulle die ‘gapings’ in terme van ontbrekende gegewens op hul eie aanvul en hulle sal ook negatiewe volwasse gedrag naboots. Die oogmerk met hierdie kursus is gevolglik om aan almal wat betrokke is by die begeleiding van kinders en jongmense die nodige riglyne te bied vir sinvolle en helende begeleiding rakende verliese en hart-seer. Binne God se volmaakte plan is daar genesing beskikbaar vir elke getraumatiseerde kind.

“Ek is vyftien jaar lank deur my pa verkrag. Ek het nooit besef dat al die dinge wat my lewe kompliseer en op sy kop keer, die gevolg daarvan is nie. Ek is altyd bang, beangs is die beter woord. Ek kry steeds hierdie herinneringe aan wat gebeur het. Hulle kom uit die niet. Ek kan op ‘n pragtige dag in ‘n mooi park sit en dan doem die beelde van wat hy gedoen het skielik voor my op. Ek voel dan asof ek weer ses jaar oud is en nie 24 nie. Dit is dan asof die hele trauma weer plaasvind. Die berader noem dit ‘n terugflits.”

Is daar hulp vir so ʼn persoon en indien wel, hoe word sy begelei tot heling en vryheid in Christus en ʼn punt waar sy weer volle lewensvreugde ervaar? In hierdie kursus word hierdie proses stap vir stap beskryf. Vir pastorale beraders, leraars en maatskaplike werkers (en ook slagoffers) is hierdie ʼn onontbeerlike bron.

Navorsing toon aan dat ongeveer 260,000 aborsies jaarliks in Suid-Afrika uitgevoer word. Die aantal individue, gesinne en families wat hierdeur geraak word, is oorweldigend. Van die mees hartseer gesprekke in berading is dan ook wanneer ʼn bejaarde dame vertel van die baba of babas wat sy jare gelede verloor het, hetsy deur aborsie, miskraam of stilgeboorte, en die oorweldigende pyn en verlange oor al die jare heen. Daar was gewoonlik geen afskeid en geen afsluiting (closure) nie en die onverwerkte rouproses was deurgaans deel van haar lewe. Die inhoud van hierdie kursus bied praktiese riglyne vir die begeleiding van sulke persone (en uiteraard ook die pa’s van sulke kinders) ten einde hierdie pakkie met pyn uiteindelik deur die helende fasilitering van die Heilige Gees finaal te kan aflaai.

Hierdie kursus is gebaseer op die boek, Raising boys by design, deur Gregory Jantz en Michael Gurian. Hierin word die mees resente resultate op die terrein van brein navorsing gekombineer met die tydlose waarhede van die Skrif, en van toepassing gemaak op die emosies en denke van ʼn seun. Die basiese behoeftes van seuns word in diepte bespreek asook voorgestelde riglyne ten einde die unieke persoonlikheid, talente, gawes, passie en Godgegewe ontwerp van elke seun tot die maksimum te ontwikkel en te aktiveer. Ons seuns het baie spesifieke en toegespitste aandag en strategieë nodig ten einde hul Godgegewe unieke manlike ontwerp ten volle tot sy reg te laat kom en om die gawes wat God aan hulle toevertrou het nie onbenut en verwaarloos te laat raak nie.

In hierdie kursus  word daar gefokus op die pastorale begeleidingsproses tot heling en herstel na traumatiese ervarings soos plaasmoorde, motorkapings, aanranding, verkragting, bankrowe, geweldsmisdaad, ens. Talle praktiese voorbeelde sal bespreek word aan die hand van aspekte soos die volgende:

  • Wat gebeur wanneer ʼn persoon trauma beleef?
  • Post-traumatiese stresversteuring
  • Die noue verband tussen liggaam, gees en emosies
  • Faktore wat die genesingsproses kan bevorder
  • Hoe bid ons saam met ʼn getraumatiseerde persoon?
  • Die sin-vraag na trauma
  • ʼn Pastorale model vir die begeleiding van trauma slagoffers
  • Toegerus om toekomstige trauma te hanteer    

Die kursus word gerig enersyds op persone met 'n belangstelling in berading (leraars, maatskaplike werkers, jeugwerkers, beraders, ens), en andersyds ook op diegene wat moontlik self op soek is na antwoorde na traumatiese ervarings.

In hierdie kursus word klem gelê op die prosesse van ontlonting en de-aktivering. Die eerste 48 uur na ‘n traumatiese gebeure is gewoonlik van kardinale belang. Daar is navorsers wat van mening is dat die impak van trauma wat nie hanteer word binne die eerste 24 uur nie, kan verdubbel, en dit beklemtoon maar net die noodsaaklikheid van korrekte optrede gedurende die eerste aantal ure. Die klem in hierdie kursus val gevolglik op praktiese riglyne met betrekking tot die optrede van die berader op die trauma toneel of kort daarna. Die mees bekende model in hierdie verband is waarskynlik dié van J T Mitchell en dit word dan ook aan die orde gestel. Praktiese riglyne met betrekking tot die hantering van ‘n groot ramp of terreurgebeure word ook bespreek.

Die problematiek rondom Generasie Bagasie (intergenerasie trauma) hou verband met die feit dat ouers dikwels deur intense trauma gaan sonder die nodige hulp en begeleiding. Dit kan ‘n proses wees wat oor jare strek, en die kinders en kleinkinders wat dan binne so ‘n familie opgroei, word uiteindelik op talle wyses geraak deur die impak van hierdie onverwerkte trauma. Indien sodanige trauma nie hanteer word nie dan toon die navorsing dat dit as’t ware ‘n ‘pakkie pyn’ word wat onbewustelik aan volgende generasies ‘oorhandig’ word. In hierdie kursus word ten slotte ʼn aantal pastorale riglyne geformuleer aan die hand waarvan persone begelei kan word wat geraak is deur generasie bagasie.

Talle persone worstel sedert kinderjare met onverwerkte emosionele pyn en trauma. Volgens die navorsing is normale geheue geneig om mettertyd te vervaag. Hierteenoor is dit so dat traumatiese geheue nooit vervaag nie en wanneer daar jare later ‘n sekere sneller is wat my herinner aan die pyn van die verlede dan is dit soos ‘n venstertjie wat oopgemaak word wanneer daar met ‘n muis geklik word. En dan herleef jy weer al die herinneringe en emosies van die oorspronklike oorweldigende gebeure. Sommige persone is op hierdie wyse op ‘n daaglikse basis besig om ‘n klomp energie te spandeer deur net die ‘deksels’ op al die onverwerkte emosies al stywer te probeer vasdraai. Gaandeweg bou die drukking egter so op dat die ‘deksel’ van die innerlike ‘drukpot’ op ‘n dag afskiet en dan impliseer dit emosionele chaos. Indien dit die proses is waarmee jy aan die worstel is dan is hierdie kursus vir jou. Die oogmerk hiermee is om persone te help om al die rooi ligte en seine te kan identifiseer wat daagliks deur jou liggaam en jou emosies aan jou gegee word en dan die nodige stappe te neem om hulp te kry ten einde by ware vryheid en oorwinning te kan arriveer. Vryheid is moontlik aangesien die Woord belowe dat as die Seun jou vrygemaak het dan sal jy waarlik vry wees!

  • “Ek is deur my pa verwerp omdat hy net seuns wou gehad het en nooit ʼn dogter nie. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat ek onwelkom was nie. Dit sou beter gewees het as ek maar liewer gesterf het as om so verwerp te word.”
  • “Ek het later in my lewe uitgevind dat my ouma wou hê my ma moes my opgee vir aanneming en dit het my baie onwelkom en verwerp laat voel. Om hierdie rede vermoed ek dat God my wil straf en ek wil daarom niks met godsdiens te doen hê nie.”

Hierdie is enkele voorbeelde van die aftakelende krag van verwerping wat talle persone alreeds sedert die vroegste kinderjare ervaar het. Talle van hierdie individue het uiteindelik die vernietigende langtermyn gevolge met hulle saam-gedra tot in die gryse ouderdom. In hierdie kursus word gefokus op die pastorale begeleiding van diegene wat op hierdie wyse emosioneel verwond en moedeloos geraak het.

Om te kan vergewe na ‘n groot onreg is enersyds een van die moeilikste geestelike take. Andersyds is die resultate gewoonlik bevrydend en helend. Om vir jare lank te worstel met bitterheid en wrokke is vernietigend, nie slegs wat die persoon se gees en emosies betref nie maar ook liggaamlik. In die bespreking van die tema van vergifnis in hierdie boek word onder andere oortuigende wetenskaplike bewyse aan die orde gestel ter ondersteuning van die feit dat mense uiteindelik ook liggaamlik ‘n groot prys kan betaal vir die vertroeteling van haat en onvergewensgesindheid. Op die langtermyn kan dit selfs die dieper oorsaak wees van iemand se fisiese dood. Diegene wat egter gewaag het om te vergewe, kan gewoonlik getuig van nuwe geestelike ontdekkings, groei en deurbrake. Vir talle het so ‘n stap die deur geopen tot ‘n nuwe geestelike avontuur en verdieping saam met Christus. In hierdie kursus is daar talle soortgelyke getuienisse.

Hierdie kursus is gebaseer op die boek, Change your brain, change your life, deur Dr Daniel Amen, ’n psigiater wat spesialiseer in breinskandering. Hy beskryf die brein as sy ‘sendingveld’. Waar emosionele en gedragsprobleme in die verlede grootliks toegeskryf was aan psigologiese probleme, toon sy navorsing dat dit in talle gevalle eerder verband hou met die fisiologie van die brein, en kan die fisiologie by ‘n groot persentasie van hierdie gevalle verander word deur die nodige behandeling. Dr. Amen werk ook ten nouste saam met pastorale beraders. In die kursus kyk ons na ’n groot aantal praktiese gevalle wat suksesvol deur dr. Amen behandel is – gevalle waar daar vantevore met behulp van berading asook ’n verskeidenheid van andere benaderings geen deurbraak was nie.

In hierdie kursus val die klem op die pastorale begeleiding van die depressiewe persoon. Aspekte wat onder andere bespreek sal word, is die volgende: 

  • Die simptome van depressie
  • Die rouproses en depressie
  • Die rol van genetika
  • Tien stres faktore wat depressie kan bevorder
  • Persoonlikheidsdinamika wat aanleiding kan gee tot depressie
  • Die rol van woede en angs
  • Wanneer is medikasie en hospitalisasie voordelig?
  • Basiese riglyne vir lewensvreugde en lewensin op die langtermyn

Die inhoud van hierdie kursus is gebaseer op die boek, Happiness is a choice, deur die Christen psigiaters, Frank Minirth en Paul Meier. Sedert dit in die laat sewentiger jare gepubliseer is, was dit ‘n topverkoper. Sedertdien is die boek telkens ge-herpubliseer met dan ook die jongste wetenskaplike navorsing rondom hierdie tema.

In hierdie kursus is die klem veral op ‘n pastorale benadering tot stres en uitbranding. Die inhoud is gebaseer op die boek, How to beat burnout, deur Frank Minirth, Don Hawkins, Paul Meier en Richard Flournoy. Die inhoud bied ook ʼn weergawe van die resultate oor jare heen binne die bekende Meier Klinieke in die VSA met betrekking tot die tema van stres en uitbranding. Aspekte waaraan aandag gegee word, is onder andere die volgende:

  • Waarskuwingstekens
  • Uitbranding en bitterheid
  • Die werkoholis en sy werkplek
  • Uitgebrand vir God
  • Jesus se begeleiding van twaalf moeë mans
  • Die fisiese herstelproses
  • Die emosionele herstelproses
  • Die geestelike herstelproses

Iemand het die volgende treffende stelling gemaak: “’n Volmaakte huwelik gaan bloot oor twee onvolmaakte persone wat weier om moed op te gee met mekaar.” Hierdie stelling sou eintlik grootliks die inhoud van hierdie kursus oor die huwelik kan weergee. Hoe beter ons mekaar ken asook die reis wat elkeen reeds agter die rug het tesame met al die pyn en trauma daaraan verbonde, hoe meer begrip en empatie sal ons met mekaar hê. Elkeen stap hierdie huwelik binne met ‘n klomp emosionele, geestelike en fisiese bagasie en begrip hiervoor asook die vermoë om saam met die Heilige Gees ontslae te kan raak van alle onnodige bagasie impliseer ‘n goddelike wenresep.

Dit is wonderlik om by mense betrokke te kan wees met wie dit in alle opsigte goed gaan (geestelik, fisies en emosioneel), wie geestelik in oorwinning leef, wie se emosionele tenks gevul is en wie ook fisies daagliks die krag het om die roeping wat God op hulle lewens gelê het, uit te leef. Ons sou hierdie kan beskryf as die een kant van die straat van die lewe en dit is die kant waar ons almal graag vir altyd sal wil woon en werk. Ongelukkig het hierdie straat egter ook ‘n ander kant en die lewe dwing jou soms onwillekeurig om oor te trek na hierdie kant toe. Dit is die kant waar ons by geleentheid oorweldigende verliese beleef, teleurstellings ervaar en dit soms ervaar asof God baie ver is. Dit kan byvoorbeeld verband hou met die tyding van ‘n ongeneeslike siekte by jouself of by ‘n geliefde. Dit kan soms ook jare se worsteling impliseer betreffende ‘n liggaam wat al hoe meer afgetakel raak, emosionele tenks wat dolleeg is en hoop en lewensvreugde wat verdwyn het. Die inhoud van hierdie kursus is hoofsaaklik gefokus op die pastorale begeleiding en ondersteuning van diegene wat gedwing is om aan hierdie kant van die straat van die lewe te bly.

In hierdie kursus word daar gefokus op die oënskynlike paradoks van godsdiens wat enersyds binne sekere kontekste ‘n helende en bevrydende rol kan vervul, veral wanneer dit op gebalanseerde en gesonde wyse beoefen word en waar die motief daaragter suiwer en opreg is; en andersyds die gevaarkant van godsdiens – met ‘gevaar’ word in hierdie konteks dan bedoel dat daar dieperliggende onverwerkte emosionele pyn aanwesig mag wees wat uiteindelik as dryfveer kan dien tot ontvlugting in oordrewe godsdienstige aktiwiteite. Die werklike pyn word nooit hanteer nie en deur middel van die stiptelike onderhouding van ’n magdom geestelike wette en reëls word daar eintlik net meer pleisters en verbande op ’n septiese wond geplaas. Die finale resultaat van so ’n proses kan dan godsdienstige verslawing impliseer waar mense uiterlik gelukkig voorkom, maar innerlik met ’n magdom van seer en pyn worstel. Praktiese riglyne vir die pastorale begeleiding van sulke verwonde persone tot ware heling word dan ook aan die orde gestel. 

This course helps people heal from traumas like violence and crime. It covers the emotional and spiritual impact, including depression and questioning faith. Designed for counselors, trauma survivors, and anyone wanting to help others cope.