In hierdie kursus word daar gefokus op die oënskynlike paradoks van godsdiens wat enersyds binne sekere kontekste ‘n helende en bevrydende rol kan vervul, veral wanneer dit op gebalanseerde en gesonde wyse beoefen word en waar die motief daaragter suiwer en opreg is; en andersyds die gevaarkant van godsdiens – met ‘gevaar’ word in hierdie konteks dan bedoel dat daar dieperliggende onverwerkte emosionele pyn aanwesig mag wees wat uiteindelik as dryfveer kan dien tot ontvlugting in oordrewe godsdienstige aktiwiteite. Die werklike pyn word nooit hanteer nie en deur middel van die stiptelike onderhouding van ’n magdom geestelike wette en reëls word daar eintlik net meer pleisters en verbande op ’n septiese wond geplaas. Die finale resultaat van so ’n proses kan dan godsdienstige verslawing impliseer waar mense uiterlik gelukkig voorkom, maar innerlik met ’n magdom van seer en pyn worstel. Praktiese riglyne vir die pastorale begeleiding van sulke verwonde persone tot ware heling word dan ook aan die orde gestel.