
Dit is wonderlik om by mense betrokke te kan wees met wie dit in alle opsigte goed gaan (geestelik, fisies en emosioneel), wie geestelik in oorwinning leef, wie se emosionele tenks gevul is en wie ook fisies daagliks die krag het om die roeping wat God op hulle lewens gelê het, uit te leef. Ons sou hierdie kan beskryf as die een kant van die straat van die lewe en dit is die kant waar ons almal graag vir altyd sal wil woon en werk. Ongelukkig het hierdie straat egter ook ‘n ander kant en die lewe dwing jou soms onwillekeurig om oor te trek na hierdie kant toe. Dit is die kant waar ons by geleentheid oorweldigende verliese beleef, teleurstellings ervaar en dit soms ervaar asof God baie ver is. Dit kan byvoorbeeld verband hou met die tyding van ‘n ongeneeslike siekte by jouself of by ‘n geliefde. Dit kan soms ook jare se worsteling impliseer betreffende ‘n liggaam wat al hoe meer afgetakel raak, emosionele tenks wat dolleeg is en hoop en lewensvreugde wat verdwyn het. Die inhoud van hierdie kursus is hoofsaaklik gefokus op die pastorale begeleiding en ondersteuning van diegene wat gedwing is om aan hierdie kant van die straat van die lewe te bly.
- Teacher: Wentzel Coetzer