Om te kan vergewe na ‘n groot onreg is enersyds een van die moeilikste geestelike take. Andersyds is die resultate gewoonlik bevrydend en helend. Om vir jare lank te worstel met bitterheid en wrokke is vernietigend, nie slegs wat die persoon se gees en emosies betref nie maar ook liggaamlik. In die bespreking van die tema van vergifnis in hierdie boek word onder andere oortuigende wetenskaplike bewyse aan die orde gestel ter ondersteuning van die feit dat mense uiteindelik ook liggaamlik ‘n groot prys kan betaal vir die vertroeteling van haat en onvergewensgesindheid. Op die langtermyn kan dit selfs die dieper oorsaak wees van iemand se fisiese dood. Diegene wat egter gewaag het om te vergewe, kan gewoonlik getuig van nuwe geestelike ontdekkings, groei en deurbrake. Vir talle het so ‘n stap die deur geopen tot ‘n nuwe geestelike avontuur en verdieping saam met Christus. In hierdie kursus is daar talle soortgelyke getuienisse.