Hierdie kursus is gebaseer op die boek, Raising boys by design, deur Gregory Jantz en Michael Gurian. Hierin word die mees resente resultate op die terrein van brein navorsing gekombineer met die tydlose waarhede van die Skrif, en van toepassing gemaak op die emosies en denke van ʼn seun. Die basiese behoeftes van seuns word in diepte bespreek asook voorgestelde riglyne ten einde die unieke persoonlikheid, talente, gawes, passie en Godgegewe ontwerp van elke seun tot die maksimum te ontwikkel en te aktiveer. Ons seuns het baie spesifieke en toegespitste aandag en strategieë nodig ten einde hul Godgegewe unieke manlike ontwerp ten volle tot sy reg te laat kom en om die gawes wat God aan hulle toevertrou het nie onbenut en verwaarloos te laat raak nie.